Facebook, Twitter en ander sosiale netwerke vorm deel van ons alledaagse lewe en dien as ‘n nuttige medium om persoonlike menings met ander te deel. Hierdie netwerke kan egter ongelukkige vertakkings hê.
Kom ons wees nou eerlik: om jou baas in die openbaar sleg te sê, was nog nooit `n slim loopbaanbesluit nie. Dis een ding om jou baas met `n vriend of kollega oor `n glasie wyn te bespreek, maar om een of ander rede bestaan daar `n geneigdheid onder werknemers om alle inhibisies en loopbaandrome te vergeet wanneer daar ‘n rekenaarskerm geplaas word tussen werkfrustrasies en die wêreld daarbuite.
Wat gebeur wanneer ‘n werknemer gebruik maak van ‘n sosiale netwerk, soos dié van Facebook, om sy mening te lug of selfs nare dinge te sê oor sy of haar werkgewer?
Howe het beslis dat dit billik is om ‘n werknemer te ontslaan weens die negatiewe stellings wat hulle op sosiale netwerke oor hul werkgewer uitblaker.
In Sedick & ‘n ander v Krisray (Pty) Ltd [2011] 8 BALR 879 (KVBA), is werknemers ontslaan weens neerhalende kommentaar wat hul op Facebook gepubliseer het oor die eienaar van die maatskappy. Die werknemers het, sonder enige klaarblyklike sukses, beweer dat hul reg op privaatheid hierdeur in gedrang gebring word.
Wat het gebeur?
Die werknemers, De Reuck en Sedick, was werksaam by `n modebykomstighede-maatskappy. Die maatskappy se bemarkingsbestuurder het aangeteken op haar Facebook-rekening en De Reuck se Facebook-blad besoek om aan haar `n vriendversoek te stuur. De Reuck se Facebook-blad het gewemel van boodskappe van Sedick en ander werknemers, waarin hulle vryelik snedige aanmerkings verruil het oor die eienaar van die maatskappy. Aanmerkings het ingesluit: “Glo my, niemand kan sit met so baie k*k vandat die f*king kinders by die maatskappy aangesluit het nie!”; ” … vandag was dol met Frankenstein “; ” Wat ‘n idioot “,” ‘n Baie lelike man met ‘n donker siel “.
Die reg op privaatheid?
Die Voorsittende Beampte het opgemerk dat kragtens Artikel 4(1) van die Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasie-verwante Inligting, enigiemand enige kommunikasie mag onderskep indien hy of sy ’n party is by die kommunikasie, tensy sodanige kommunikasie onderskep word vir die doel om ’n misdryf te pleeg.
Volgens die Voorsittende Beampte moet die internet beskou word as openbare domein en Facebook-gebruikers het die opsie om toegang tot hulle profiele sowel as die inligting wat hulle publiseer, te beperk. Juis weens die werknemers se nalate of versuim om die privaatheid-opsie te gebruik, het hulle afstand gedoen van hul reg tot privaatheid.
Billike ontslag?
Die werknemers het aangevoer dat hulle nie direk verwys het na die maatskappy of `n spesifieke persoon werksaam by die maatskappy nie en dus ontken dat hul die maatskappy se reputasie enige skade berokken het. Die Voorsittende Beampte het nie met hierdie argument saamgestem nie aangesien dit volgens hom voor die hand liggend was dat die mense wat die boodskappe lees bewus sou wees na wie die werknemers verwys.
Met inagneming van wat geskryf is, waar die kommentaar geplaas is, aan wie die kommentaar gerig was, aan wie dit beskikbaar was en deur wie dit geplaas is, het die Voorsittende Beampte beslis dat hierdie kommentaar wél die werkgewer se goeie naam en reputasie in die gedrang gebring het by sowel persone binne as buite die maatskappy.
Die Voorsittende Beampte het bevestig dat ontslag wel onder hierdie omstandighede regverdig kan word, met dien verstande dat die werkgewer die regte prosedure volg en dat die getuienis in hierdie verband nie onwettig verkry is nie.
Dus, indien jy `n baie slegte dag by die kantoor gehad het, skep eers asem. Moenie onder die invloed van drank, woede of frustrasie negatiewe kommentaar plaas oor mnr. of mev. Baas nie.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.