Die huis was presies waarna jy gesoek het. Die regte woonbuurt, ‘n gevestigde tuin, pragtige bome wat grasieus wieg in die somerbries met net die regte hoeveelheid skadu langs jou swembad en veranda. Boonop is die bome in jou buurman se erf, en nie jou probleem wat snoei of die blare betref nie, het die eiendomsagent gesê. Jy het jou hart verloor en jou gesin is gaande oor die nuwe woning.
Herfs kom en die blare verander van kleur. Jou wen foto‘s het jy sommer vanaf die agterdeur geneem!
Maar as die blare begin val, verstop die swembadpomp in ‘n oogwink en moet kort-kort herstel word. Jou Saterdag-gholfafspraak word afgestel omdat jy vragte blare moet wegry. Met die eerste donderstorm van die nuwe seisoen skeur die wind ‘n tak af en ruk daarmee saam sommer ook die elektriese heining van die muur af.
Die akkers maak duike in jou nuwe trots en terwyl jy by die strandhuis was, het die ryp vrugte op jou grasperk gevrot.
Sodra jou bure weggaan vir die naweek gaan jy oor die muur spring en met jou kettingsaag inklim…
Probleme met die buurman se bome is so oud soos woonbuurte self en sedert mense al nader aan mekaar begin woon het.
Om bloot oor die muur te spring en te snoei soos jy dit wil hê, of nog erger, die boom af te saag, is nie net ongemagtigde betreding van jou buurman se eiendom nie, maar ook opsetlike saakbeskadiging.
Menige ongelukkige eienaar het al die howe genader vir hulp met die buurman se boom. Die howe het aanvanklik eers die gronde waarop die howe genader moet word oorweeg, wat nou algemeen aanvaar word as “ergernis”.
Jy sal aan die hof moet bewys dat die ongemak veroorsaak deur jou buurman se boom nie net is omdat jy onrealisties of elegant is of verfynde leefstylgewoontes het nie. Die ongemak moet wesentlik inbreuk maak op jou gebruiklike fisiese gemak en jou menslike bestaan.
Die maatstaf wat die howe in ag sal neem in die oorweging van hierdie inbreuk op jou gesondheid, welstand en gemak met die besit van jou eiendom, is díe van ‘n normale persoon met vrysinnige smaak en gewoontes. Die toets van redelikheid sal toegepas word met inagneming van die algemeen aanvaarde waardes van ‘n besondere gemeenskap. Werklike skade aan jou eiendom is nie ‘n vereiste nie.
Die hof sal egter ook die ergernis oorweeg, selfs al veroorsaak die bome werklike skade, in verhouding met jou verantwoordelikheid om die natuurlike gevolge van die gewone gebruik van grond, te verdra en te verduur.
Met ander woorde, die hof sal die geskil oorweeg en die beslissing sal ‘n balans vind tussen die kompeterende belange van jou en jou buurman.
Die uitspraak van De Vos R in Vogel v Crewe and another 2003 (4) SA 50 (T) het ‘n verdere baie belangrike aspek na vore gebring: die natuurlike omgewing.
In ‘n wêreld waar bome en die natuur ‘n toenemend belangrike rol speel en geag word as belangrik vir ons welstand asook die welstand van die aarde, moet daar des te meer versigtige oorweging geskenk word voordat ‘n eis om die afkap van ‘n boom, toegestaan word.
De Vos R het opgemerk dat bome ‘n noodsaaklike deel van ons menslike omgewing uitmaak en nie net estetiese genot aan ons verskaf nie maar ook funksioneel is wat betref die voorsiening van skadu, kos en suurstof. En, soos soveel ander lewende organismes, vereis bome, in ruil vir die genot wat hulle verskaf, ‘n sekere mate van moeite, aandag en verdraagsaamheid.
Met ons groeiende bewuswording van die noodsaak om ons omgewing te beskerm, moet ons meer verdraagsaam wees oor die onvermydelike probleme wat veroorsaak word deur die krimpende grootte van eiendomme en die toenemende nabyheid van ons bure en dus ook ons bure se bome.
Voordat jy jou eiendom verkoop en na ‘n ander woonbuurt verhuis, oorweeg ‘n vriendelike gesprek met jou buurman en sy snoeier, aan JOU kant van die muur.
Verduidelik aan jou buurman watter takke van watter bome ‘n probleem is en wys vir hom die oorsaak van jou kommer. Wees boonop bereid om ‘n middeweg te volg wat die soort boom, die groeiwyse en die balans van die boom in ag sal neem. Jy kan nie op die verwydering van ‘n groot tak aandring wat die boom se balans gaan versteur en veroorsaak dat dit met die volgende stormwind op jou muur gaan val nie!
Sou al jou pogings, insluitend vriendelike briewe en e-pos korrespondensie op dowe ore val, is jy wel geregtig om die takke van die punt waar dit oor die muur in jou eiendom hang, te snoei. Jy mag egter nie oor die muur leun om die takke aan die kant van jou buurman te sny nie. Jy sal ook verantwoordelik wees om die takke van jou eiendom te verwyder nadat jy die boom op hierdie manier gesnoei het.
Kry vir jou ‘n koppie tee en gaan kyk behoorlik en onpartydig na daardie “aanstootlike” boom. Sien jy die insekte, die voëls wat rondfladder en die akkedissie? Rustig, is dit nie?
Moet daardie boom regtig afgesny word of sal jy dit kan verdra en verduur nadat dit ‘n bietjie gesnoei is? As die boom nie daar is nie, het jy dalk ‘n heel ander uitsig op jou buurman se tuin of selfs in sy huis, wat dalk baie minder aangenaam is!
Neem die natuur en jou omgewing in ag. Verdra die boom. In die somer gaan jy die skadu waardeer.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.