Die meeste mense verstaan die belang daarvan om ‘n geldige testament te hê, waarvolgens ‘n eksekuteur aangestel en begunstigdes benoem word ten einde uitvoering te gee aan die verdeling van die testateur se eiendom by sy of haar afsterwe.
Maar hoeveel mense ag dit nodig om ‘n lewende testament op te stel?
‘n Lewende testament het nie ten doel om te beskik oor bates, legate of begunstigdes nie, maar het betrekking op die filosofie rakende die dood en afsterwe, en moet versigtig oorweeg word en deur ‘n kundige opgestel word.
‘n Lewende testament is ‘n regsgeldige dokument waarin ‘n persoon se wense te kenne gegee word met betrekking tot mediese behandeling wat lewe kan verleng wanneer die persoon nie langer in staat is om sy of haar wense uit te spreek nie. Dit kan ook bestempel word as ‘n vervroegde mediese opdrag.
‘n Tipiese klousule in ‘n lewende testament sou soos volg lees:
As die tyd aanbreek dat ek nie in staat is om besluite oor my toekoms te neem nie dien die volgende verklaring as my opdrag.
Indien ek aan ‘n siektetoestand of fisiese aantasting ly wat groot nood vir my veroorsaak en my onkapabel maak om ‘n rasionele bestaan te voer en daar geen redelike vooruitsig op herstel is nie, weerhou ek my toestemming om op kunsmatige wyse aan die lewe gehou te word en om enige vorm van buisvoeding te ontvang as ek sterwend is. Ek versoek verder dat ek alle nodige medikasie binne-aars ontvang om my gemaklik en vry van pyn te hou, al sou dit die oomblik van dood verhaas. Ek weerhou uitdruklik toestemming tot enige vorm van resussitasie indien my hart en asemhaling staak en my prognose hopeloos is.
Die lewende testament stel dus die dokter en familie in kennis dat die pasiënt nie toestem tot enige behandeling wat hom of haar kunsmatig aan die lewe hou nie. Dit praat namens die pasiënt wanneer hy of sy nie in staat is om self te kommunikeer nie.
Die Suid-Afrikaanse reg en die meeste gelowe erken die geldigheid van die lewende testament maar al die vernaamste gelowe is gekant teen genadedood. Genadedood is onwettig en die opspraakwekkende geval van die gerespekteerde UWK-professor, Sean Davison, was onlangs in die nuus toe hy in Nieu-Seeland gearresteer is op ‘n klag van poging tot moord nadat hy sy ongeneeslik siek 85-jarige moeder, Patricia Ferguson, bygestaan het met selfdood deur ‘n dodelike dosis morfien vir haar voor te berei.
Die belang van ‘n geldige lewende testament word onderstreep deur hierdie geval wat toon dat daar traumatiese en verreikende gevolge kan wees vir die geliefdes wat agterbly.
Baie prokureurs wat boedelbeplanning doen, sluit dan ook ‘n lewende testament en ‘n mediesesorgvolmag in by hul pakket van boedelbeplanningsdokumente.
Die voordele van ‘n lewende testament
Die nadele van ‘n lewende testament
Hou die volgende in gedagte
Deur Monica Störzner
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.