U is lid van ‘n Beslote Korporasie (“BK”) in wie se naam ‘n besigheid bedryf word, of waarin een of meer eiendomme geregistreer is.
U het gehoor dat die inwerkingtreding van die nuwe Maatskappywet 71 van 2008 (“die Wet”) op 1 Mei 2011 bepaalde wysigings op die bestaande werking van ‘n BK, sowel as die toekoms van BK’s in geheel meebring. Hoe nou gemaak?
Met die inwerkingtreding van die Wet is die ou Maatskappywet van 1973 herroep en het dit ook sekere wysigings aan die bestaande Wet op Beslote Korporasies, Wet 69 van 1984 meegebring. Die Wet op Beslote Korporasies in sy gewysigde vorm bly egter voortbestaan tesame met die nuwe Wet.
Die totstandkoming van die nuwe Wet het die volgende regsgevolge waarvan elke BK-lid bewus moet wees:
Dit maak voorsiening vir die voortbestaan van reeds bestaande, geregistreerde BK’s maar verhoed die registrasie van enige nuwe BK’s na 1 Mei 2011. So ook sal bestaande rak BK’s wat reeds geinkorporeer is en gewoonlik deur ‘n klein besigheids entrepreneur gekoop is vir gebruik in ‘n toekomstige beplande onderneming, bly voortbestaan. Die inkorporasie van nuwe BK’s na inwerkingtreding van die Wet is ontoelaatbaar, en die skep van enige nuwe rak BK’s dus ook nie langer moontlik nie.
Die “Companies and Intellectual Property Registration Office” (“CIPRO”) is die statutêre liggaam wat verantwoordelik was vir die registrasie van alle nuwe BK’s en maatskappye voor die totstandkoming van die Wet. Hierdie funksie is gelyktydig oorgeneem deur die nuwe statutêre liggaam, “Companies Intellectual Property Commission” (“CIPC”). Laasgenoemde liggaam beskik oor ‘n volledige databasis en geskiedkundige administratiewe rekord van alle bestaande BK’s en Maatskappye. Enige wysigings aan BK’s wat na die Wet se inwerkingtreding deur CIPC hanteer is, sal dienooreenkomstig op hulle databasis geregistreer wees.
Alhoewel die Wet nie BK’s verplig om na maatskappye om te skakel nie, word dit egter stilswyend daarin aangemoedig deurdat die wetgewing vereenvoudig is, die reguleerbare laste op maatskappy verminder is en die registrasieproses vir ‘n maatskappy ook vereenvoudig is. Onder die nuwe Wet vervang die private maatskappy grotendeels die BK as die voorkeur voertuig vir klein en medium grootte besighede in dié sin dat ‘n private maatskappy slegs deur een persoon gevorm kan word, en dat dit nie meer as een direkteur hoef te hê nie.
Die Wet ondersteun bestaande BK’s in die proses van omskakeling van ‘n BK na ‘n private maatskappy. Om so ‘n omskakeling te bewerkstellig, word ‘n amptelike kennisgewing van omskakeling, ‘n gesertifiseerde afskrif van die spesiale resolusies om die omskakeling te magtig, ‘n nuwe Memorandum van Inkorporasie sowel as die voorgeskrewe fooi vir omskakeling, benodig. Bykomend hiertoe word bestaande private maatskappye nie meer toegelaat word om na BK’s om te skakel nie.
Soos reeds voorheen in die artikel genoem, sal die Wet en die bestaande Wet op Beslote Korporasies gelyklopend met mekaar toepassing vind. Die Wet vereis dat BK’s moet voldoen aan alle nuwe bepalings daarvan. ‘n Voorbeeld hiervan is die bepalings verbonde aan sogenaamde “business rescue” prosedures asook sekere vereistes rakende finansiële state. ‘n BK (afhangende van sy grootte) kan dus moontlik ingevolge die Wet statutêr verplig word om geouditeerde finansiële state op te stel.
Afhangende van die bestaande gebruik van u BK, asook wat u toekomsplanne met sodanige regspersoon sou wees, word u aangeraai om die nodige advies van u rekenmeester of ouditeur, in samewerking met u prokureur in te win ten einde seker te maak dat u voldoen aan al die vereistes van die Wet, asook of u ‘n moontlike omskakeling na ‘n privaat maatskappy moet oorweeg. Dit sal ook aan u ‘n realistiese idee gee of u die maksimum voordele haal uit u huidige BK as regspersoon.
Saamgestel deur: Marcelle Strydom
BRONNELYS:
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.