SUCCESSION PLANNING
April 29, 2015
HOME OWNERS’ ASSOCIATION: RATHER FRIEND THAN FOE
April 29, 2015

HUISEIENAARSVERENIGING: EERDER VRIEND AS VYAND

MHI_A2BNa maande se gesoek het Phillip en Kate uiteindelik hulle droomhuis gevind…net om te hoor dat hulle lid van die Huiseienaarsverening (HEV) sal moet wees. Wat presies beteken dit en wat gaan dit behels?

‘n HEV bestaan uit al die eienaars van eiendomme in ‘n bepaalde behuisingskema/ontwikkeling. Die eienaars, wat die HEV vorm, sal gewoonlik tydens die jaarvergadering Trustees verkies wie onder andere namens die eienaars omsien na die eienaars se belange, die reëls toepas en die finansies hanteer. Die HEV se bestuur word nie deur wetgewing bepaal nie en elke HEV het dus sy eie Grondwet waaraan eienaars in die behuisingskema gebonde is.

Dit is maklik om dadelik ‘n negatiewe konnotasie aan ‘n HEV te koppel. Wie wil nou in ‘n huis woon, maar steeds aan reëls en regulasies voldoen en boonop heffings betaal soos in ‘n deeltitelkompleks?

Voordat Phillip en Kate mismoedig wegdraai, moet hulle deeglik besin oor die voordele van lidmaatskap van ‘n goed-bestuurde huiseienaarsvereniging.

Een van die belangrikste faktore wat oorweeg moet word is veiligheid. Met die stygende misdaadsyfers in Suid-Afrika is dit vanselfsprekend dat jou en jou gesin se veiligheid aandag moet geniet wanneer potensiële eiendomme besigtig word. Die kostes verbonde aan die beveiliging van ‘n woning moet noukeurig nagegaan word. ‘n Voordeel van sommige HEVs is die feit dat eiendom in ‘n geslote kompleks geleë is. Die komplekse kan oor ‘n mate van sekuriteit beskik, soos ‘n elektriese toegangshek en elektriese heining, tot streng sekuriteit deur middel van wagte wat toegang tot die kompleks beheer.

Verder moet die estetika oorweeg word. ‘n HEV se grondwet bevat dikwels riglyne oor van die argitekturele styl van die wonings, tot die kleurskakerings wat gebruik moet word. Sodoende vorm die wonings ‘n netjiese eenheid en alle eienaars is verplig om hulle eiendom in ‘n goeie toestand te onderhou. Dit maak nie saak hoe goed versorg jou huis en tuin is nie, as jou buurman se eiendom vervalle is en sy tuin oorgroei met onkruid, sal jou goeie instandhouding nie dieselfde effek hê as in ‘n goed onderhoude omgewing nie.

Soos genoem, bepaal ‘n HEV se grondwet die reëls waaraan eienaars moet voldoen. Die reëls verseker dat alle inwoners in harmonie saamleef en oortreders op toepaslike wyse vervolg word. Indien bure in ‘n ongereguleerde woonbuurt byvoorbeeld aand na aand wilde partytjies hou, is jou verweer as “buurman” redelik beperk en dit kan weke neem voordat die probleem opgelos is. Aan die ander kant sal die Trustees van ‘n goed-bestuurde HEV konflik vinnig en op ‘n beskaafde wyse oplos.

Die lede van die HEV kan bydra tot die doeltreffende funksionering daarvan deur te verseker dat alle inwoners bewus is van die Grondwet, asook ‘n kopië daarvan ontvang, sodat alle inwoners weet wat van hulle verwag word. Aan die ander kant kan Trustees die effektiewe bestuur verseker deur die reëls konsekwent toe te pas en alle inwoners op dieselfde wyse te behandel en te straf wanneer reëls oortree word. Verder sal die Trustees van ’n goed-bestuurde HEV byvoorbeeld eers met oortreders gesels voordat oorgegaan word na die uitreik van ‘n boete. Dit voorkom dat inwoners ‘n negatiewe gevoel teenoor die HEV ontwikkel en later onwillig is om hulle samewerking te gee.

Sou jy oorweeg om ‘n eiendom te bekom waar daar van jou vereis word om lid te word van ‘n HEV, sal dit verstandig wees om die finansiële state van die HEV aan te vra en sodoende te verseker dat die fondse goed bestuur word en dat die Vereniging finansieël sterk is. Verder kan jy ook die laaste paar vergaderings se notules bekom. Op diè manier sal jy insae verkry oor die tipe probleme wat eienaars oor die algemeen ervaar, asook die wyse waarop hierdie probleme opgelos word.

Trustees behoort ‘n HEV op so ‘n wyse te bestuur dat handelinge met hulle ‘n positiewe gevoel skep en tot voordeel van alle eienaars in die behuisingsskema is.

Skrywer: Riëtte Smuts

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X