Soos die bekende gesegde deur Benjamin Franklin lui, “in hierdie wêreld kan niks met sekerheid gesê word nie, behalwe die dood en belasting.”
Niemand wil daaraan dink dat ons op een of ander stadium ‘n geliefde aan die dood sal afstaan nie, veral nie as ons nog jonk en gesond is nie. Ongelukkig is dit ‘n realiteit wat ons op een of ander stadium in die gesig sal moet staar. Wanneer dit wel gebeur is die laaste ding waaroor jou geliefdes bekommerd moet wees, die bereddering van jou boedel.
Kom ons kyk na Anton se omstandighede. Hy is ‘n fikse en gesonde 32 jarige man, getroud met twee minderjarige kinders. Hy besit ‘n huis met ‘n uitstaande verband, die meubels in die woning, ‘n motorvoertuig en ‘n spaarrekening. Hy is onder die indruk dat hy nie nodig het om ‘n testament op te stel nie, hy is nog jonk en gaan nie ‘n reuse boedel nalaat nie, boonop sal sy vrou mos sy bates erf wanneer hy sterf…nie waar nie?
Sou Anton sterf sonder om ‘n geldige testament na te laat, sal sy boedel in terme van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 verdeel word. Wat dit vir Anton se gesin beteken (soos in die scenario hierbo), sal sy vrou in terme van die Intestate Erfreg R250 000 of ‘n kindsdeel, watter bedrag ook al die grootste is, van sy boedel erf en sy kinders elk ‘n kindsdeel. ‘n Kindsdeel word bereken deur die waarde van die boedel te verdeel deur die aantal kinders en nagelate gades. Veronderstel die waarde van Anton se boedel beloop R1 200 000 sal ‘n kindsdeel R1 200 000 ÷ 3 (sy twee kinders en sy vrou) = R400 000 wees. Sy vrou en elk van sy twee kinders sal dus R400 000 erf. Die kindsdeel is dan groter as die minimum van R 250 000 voorgeskryf deur die wet. Maar sou die waarde van Anton se boedel R300 000 beloop, sal sy vrou R250 000 erf en sy twee kinders R25 000.00 elk.
Ten spyte van die feit dat hierdie omstandighede glad nie Anton se wense weerspieël nie, bestaan die moontlikheid dat die Eksekuteur van sy boedel die gesinswoning sal moet verkoop om die uitstaande verband af te los. (Let asseblief dat dit nie altyd die geval is nie, maar wel ‘n moontlikheid afhangende van die omstandighede.)
Dit is uiters belangrik om ‘n deskundige te raadpleeg vir hulp en bystand met die opstel van ‘n testament. Soos wat jou lewensomstandighede verander, moet jou testament ook gereeld opgedateer word om aan jou veranderende behoeftes of wense uitvoering te gee.
Eerstens stel ‘n testament jou in staat om jou wense duidelik uit te spreek. Anton sal dus kon bepaal dat sy vrou sy hele boedel moet erf, wat haar in staat kon stel om moontlik met die kontant in sy spaarrekening ‘n gedeelte van die verband oor hulle woning af te los. Dit kan dus letterlik die verskil beteken of sy hulle gesinswoning kan behou of nie. Dit is belangrik om seker te maak dat geen onduidelikheid oor jou wense bestaan nie. Jy sal nie meer hier wees om jou ware bedoeling uit te spreek nie.
Anton mag dalk oor ‘n paar jaar anders voel en sy kinders wil insluit by sy testament. Hy kan dan ‘n Testamentêre Trust in sy Testament stig ten bate van sy minderjarige kinders. Die Testament kan onder andere aandui wie as Trustees van die Testamentêre Trust aangestel moet word om die trustbates namens sy minderjarige kinders te behartig, asook die ouderdom waarop die erfporsie aan hulle uitbetaal moet word.
Verder sal ‘n deskundige hom adviseer oor die kostes verbonde aan die bereddering van ‘n boedel en die belangrikheid om voorsiening te maak dat voldoende kontant in die boedel betaal sal word om enige skuld af te los, asook kostes wat deur die loop van die boedelproses betaalbaar is. Sodoende sal ‘n nagelate gade nie gedwing word om bates te verkoop om skuld te vereffen nie.
Anton sal ook in staat wees om ‘n Eksekuteur aan te wys in sy Testament wie sal toesien tot die administrasie van sy boedel. Aangesien die boedelproses ‘n gespesialiseerde taak is, is dit wenslik om ‘n deskundige aan te stel. ‘n Nagelate gade kan egter ook aangewys word as Eksekuteur van ‘n boedel, wie dan weer ‘n deskundige kan raadpleeg vir bystand.
Die afsterwe van ‘n geliefde is ‘n pynlike ervaring, dit is dus belangrik om alles in jou vermoë te doen om die bereddering van jou boedel so sorgvry moontlik vir jou geliefdes te maak.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.