YOUR PROPERTY’S LEGACY FILE
March 29, 2016
DIFFERENCES BETWEEN PUBLIC AND PRIVATE SCHOOLS IN SOUTH AFRICA
March 29, 2016

JOU EIENDOM SE NALATENSKAP-LÊER

A4Johan en Susan se warmwatersilinder bars gedurende die vroeë oggendure.  Deur al die chaos om die stopkraan te kry en die kinders uit die water te hou, loop die soektog na die versekeringspolis uit op ‘n massiewe stryery.  Hoekom is al die los dokumente nie geliasseer nie?  Nou moet Susan deur al hulle persoonlike dokumente soek om die een te kry wat sy nou dringend nodig het.

Sou dit nie minder stresvol gewees het as al die huis se dokumente netjies en op datum op ‘n sentrale plek gehou word nie? Susan sou dadelik die nodige kontaknommers tot haar beskikking gehad het, terwyl Johan die stopkraan uitsorteer.

Waarom sit jy nie ‘n paar uur uit jou skedule in die komende maand om jou huis se nalatenskap-lêer te skep of jou bestaande lêer op datum te bring nie.

Indien jy van nuuts begin, koop ‘n ringlêer met sakkies of ‘n flipfile.  Elke afdeling in jou lêer sal dan in sy eie sakkie geplaas word en sodoende maklik op datum gehou kan word met die nuutste inligting.

Die volgende is items wat in die lêer gestoor kan word:

1. Inligtingsblad met die kontakbesonderhede van jou Prokureur, Makelaar, Elektrisiën, Loodgieter, Tuindienste, Huishulp en ander diensverskaffers sodat jy nie noodwendig na die toepaslike sakkie hoef te gaan indien jy slegs ‘n nommer benodig.
2. Afskrif / Oorspronklike Titelakte van jou eiendom(me) – hierdie dokument is nie net belangrik met die verkoop van jou eiendom nie, maar ook wanneer planne opgetrek word vir potensiële aanbouings
3. Besonderhede van jou Verbandrekening(e) oor jou eiendom(me)
4. Nuutste Huurkontrakte – waarby jy die huurder of verhuurder is
5. Afskrif van jou koopkontrak
6. Rekord van verbeteringe aangebring
7. Goedgekeurde bouplanne
8. Die nuutste weergawe van jou Korttermynversekeringspolis –  Versekering op jou huis en huisinhoud
9. Kewersertifikaat, Elektrisiteitsertifikaat, Loodgietersertifikaat, Elektrieseheining sertifikaat en Gas sertifikaat
10. Sekuriteitsmaatskappy se kontrak en kontakbesonderhede
11. Besonderhede van die swembad hersteldienste

Die lys is natuurlik nie uitgeput nie, maak die lêer jou eie en brei die lys uit om by jou unieke omstandighede aan te pas.  Die lys kan selfs ingewerk word by jou persoonlike nalatenskap-lêer, wat onder andere die volgende dokumente sal bevat:

1. Inligtingsblad met die kontakbesonderhede van jou Prokureur, Makelaar, Bankier, Dokter ens.
2. ‘n Afskrif van jou Identiteitsdokument
3. ‘n Afskrif van jou nuutste Testament – Die oorspronklike testament sal in veilige bewaring in jou Prokureur se kantore gehou word
4. Jou oorspronklike Huweliksertifikaat, Huweliksvoorwaardekontrak, egskeidingsbevel en skikkingsakte (indien van toepassing)
5. Die nuutste weergawe van alle Langtermynversekeringspolisse – bv. Lewensversekering, ongeskiktheidsdekking en verbandbeskermingsdekking
7. Besonderhede van jou begrafnispolis en byvoordele, asook ‘n lys van rekenings waarop jy dekking ingeval van sterfte het
8. Bewys van jou Aandeleportefeulje
9. Besonderhede van jou bankrekeninge – bv. Jou tjekrekening, kredietkaartrekening en spaarrekening.
10. Besonderhede van jou beleggings – bv. Beleggingsrekening by ‘n bank en uitkeerpolis
11. Bewys van enige bates met waarde bv. ‘n muntversameling of juweliersware
12. Motorvoertuigregistrasie dokumente
13. Jou geldige Televisielisensie
14. Jou selfoonkontrak; landlynkontrak en internetdiensverskaffer kontrak
15. Besonderhede van alle winkelrekeninge bv Edgars of House and Home
16. Nuutste korrespondensie vanaf die Ontvanger van Inkomste
17. Besonderhede van jou Pensioenfonds en -voordele
18. Trustakte en Magtigingsbrief van enige Trust waarby jy ‘n belang het
22. Rehabilitasiebevel
23. Enige skuldooreenkoms waar jy vir iemand anders geld skuld of hulle vir jou
24. Besonderhede van jou Mediesefonds en Mediese GAP Dekking
25. Munisipale rekening
26. Eskomrekening of koopkragstrokie
27. DSTV / MNET kontrak en kontakbesonderhede
28. Besonderhede van die tuindienste
29. Besonderhede van jou huishulp

Verder kan sommige van die bogemelde dokumente ook in elektroniese formaat gestoor word.  Jy kan dus jou lêer aanpas om uit beide harde kopieë (van die oorspronklike dokumente in jou besit bv. jou oorspronklike Titelakte) en elektroniese kopieë (van die dokumente wat aan jou per e-pos gestuur word bv. Jou versekeringspolis) te bestaan.  Onthou om gereeld rugsteun kopieë van die elektroniese lêer te maak en by die harde kopieë te stoor.

Ons daaglikse lewens het oorgenoeg onvoorspelbare uitdagings, moenie toelaat dat jou persoonlike administrasie verdere spanning in jou lewe veroorsaak nie.  Begin vandag en neem beheer oor jou administrasie, betrek sommer die kinders ook en voor jy weet is alles op datum en op ‘n maklik bereikbare plek.

Opgestel deur Riëtte Smuts

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X