Dit is algemeen om die term “noulettenheidsondersoek” of due diligence (“DD”) te hoor tydens gesprekke wat gevoer word oor die moontlike koop, verkoop, samesmelting of amalgamasie van besighede, asook in gevalle waar ’n derde party dit oorweeg om in ’n besigheid te investeer. Ten spyte van die feit dat voornemende kopers, verkopers en/of beleggers bekend is met die konsep en prosedures van DD-prosedures, word die noodsaaklikheid daarvoor in baie gevalle misken weens die finansiële implikasies wat dit inhou.
’n DD kan in kort beskryf word as ’n behoorlike ondersoek na die werking, strukture en historiese maatskappy sekretariële en korporatiewe rekords van ’n besigheid wat normaalweg in opdrag van ’n voornemende koper en/of belegger gedoen word. Die doel hiervan is om die koper en/of belegger in ’n posisie te plaas om ’n ingeligte besluit te neem voordat die besigheid gekoop word of voordat daar in die besigheid gëinvesteer word.
Dit is egter nie altyd moontlik om ’n standaard DD-prosedure te volg nie aangesien elke transaksie se feite en omstandighede verskil. Die proses wat gevolg moet word en komponente van só ’n ondersoek word bepaal volgens die aard en inhoud van elke transaksie, asook volgens die betrokke partye se behoeftes. Dit is egter ook belangrik om te onthou dat ’n DD ’n tydsame proses kan wees en daarom kan kostes maklik oploop, welke aspek ’n bydraende faktor van die partye kan wees wanneer besluit word wat só proses alles moet insluit.
Onderstaande is egter enkele punte wat in meeste gevalle ’n goeie vertrekpunt is wanneer ’n DD-proses van stapel gestuur word, naamlik –
Besigheidstruktuur en korporatiewe beheer
Finansiële rekords
Belasting
Bates
Ooreenkomste
Bogenoemde is slegs enkele aspekte waaraan oorweging geskenk kan word tydens ’n DD-proses, verdere oorwegings kan insluit, aangaande litigasie, werknemers en bestuur van ’n besigheid, die Nasionale Kredietwet ens.
Dit is egter belangrik om in ag te neem dat wanneer ’n voornemende koper en/of belegger van ’n besigheid die moontlikheid oorweeg om betrokke te raak by ’n besigheid hy/sy daarop geregtig is om ’n DD-prosedure aan te vra. Die doel hiervan is om soveel as moontlik inligting rakende die besigheid in te samel om ingeligte besluite te kan neem. In meeste gevalle sal gevind word dat die voordele wat só ’n proses inhou die koste-implikasie regverdig en om daardie rede word dit kliënte aangemoedig om hierdie as ’n fundamentele aspek van ‘n suksesvolle besigheidstransaksie beskou.
This article is a general information sheet and should not be used or relied on as legal or other professional advice. No liability can be accepted for any errors or omissions nor for any loss or damage arising from reliance upon any information herein. Always contact your legal adviser for specific and detailed advice. Errors and omissions excepted (E&OE)