Tradisioneel en onder die vorige Maatskappywet kon ‘n maatskappy ‘n geregistreerde adres en ‘n hoofplek van besigheid hê. ‘n Maatskappy kon byvoorbeeld van een adres af sy besigheid bedryf en ook ‘n geregistreerde adres by sy ouditeure hê.
Kragtens die 1973-Maatskappywet het enige afdeling van die Hooggeregshof waar ‘n maatskappy ‘n geregistreerde adres of ‘n hoofplek van besigheid het, jurisdiksie gehad om ‘n saak aan te hoor. Meer as een hof kon gevolglik jurisdiksie hê in verrigtinge waar ‘n maatskappy betrokke was.
Die nuwe 2008- Maatskappywet wat die 1973 Wet in ‘n groot mate herroep, het nie ‘n soortgelyke bewoording wat voorsiening maak vir meer as een adres nie. In die saak van Sibakhulu Construction (Edms) Bpk v Wedgewood Village Golf Country Estate (Edms) Bpk (Nedbank tree tussenbeide) 2013 (1) SA 191 was die Wes-Kaapse Hoërhof gemoeid met die vraag watter hof kragtens die nuwe Wet jurisdiksie sal hê waar ‘n maatskappy ‘n geregistreerde adres het wat verskil van die hoofplek van besigheid.
Die saak het gehandel oor ondernemingsredding- en likwidasieverrigtinge. Die Hof het daarop gewys dat Artikel 128 van die Wet slegs verwys na “…die Hooggeregshof…” Hierdie bewoording impliseer dat slegs een hof jurisdiksie oor ‘n maatskappy sal hê en nie meer as een hof soos in die vorige Wet nie. In sy oorweging van die saak het die Hof aandag geskenk aan die interpretasie van die nuwe Wet.
Artikel 23(3) van die nuwe Wet bepaal spesifiek dat ‘n maatskappy deurentyd ten minste een kantoor moet onderhou en die adres daarvan, of indien die maatskappy meer as een kantoor het, die adres van sy hoofkantoor, moet registreer. Ingevolge die nuwe Wet sal hierdie kantoor dus die maatskappy se geregistreerde kantoor wees. Artikel 23 stel dit ook duidelik dat die kantoor deur die maatskappy self beheer moet word terwyl die daaropvolgende artikel aantoon watter dokumentêre rekords by die adres gehou moet word. Die Hof het opgemerk dat die nuwe Wet die gebruik behou van ‘n geregistreerde adres waarmee die buitewêreld kontak kan maak.
Ongelukkig het die nuwe Wet nie “hoofkantoor” gedefinieer nie maar die hof het opgemerk dat met die nagaan van die Wet dit duidelik is dat die bedoeling was om ‘n plek aan te dui waar die maatskappy se besigheidsadministrasie geleë is. Die Hof was van mening dat hierdie adres ook die hoofplek van besigheid van die maatskappy moet wees. Die maatskappy se hoofplek van besigheid en geregistreerde kantoor moet gevolglik by dieselfde adres wees.
Die Hof het ook verwys na Artikel 7 van die Wet wat stel dat die bedoeling van die Wet is om voorsiening te maak vir ‘n voorspelbare en effektiewe omgewing vir die doeltreffende regulering van maatskappye. Die Hof het die mening gehuldig dat, om uitvoering aan die bedoeling van die Wet soos uiteengesit in Artikel 7 te gee, dit volg dat ‘n maatskappy kragtens Artikel 23 slegs by sy geregistreerde adres gehuisves kan wees, wat beteken dat slegs ‘n enkele hof jurisdiksie het.
Maatskappye moet kennis neem van hierdie uitspraak en seker maak dat hul hoofplek van besigheid as hul geregistreerde adres geregistreer word.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.