A DENT ON YOUR RECORD?
November 27, 2014
DO YOU KNOW YOUR DOMESTIC WORKER’S RIGHTS?
March 2, 2015

WEET U WAT U HUISWERKER SE REGTE IS?

MHI_A3blDie Departement van Arbeid, in terme van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes No.75 van 1997 verskaf ‘n uitleg van huiswerkers se regte. Hier is ‘n paar belangrike faktore om in gedagte te hou wanneer u ‘n huiswerker in u woning aanstel :

WERKSURE

  • ‘n Huiswerker mag ‘n maksimum van 45 ure per week werk, wat 9 ure per dag vir ‘n 5 dag werksweek kan wees, of 8 ure per dag vir ‘n werksweek van meer as 5 dae;
  • Oortyd moet op ooreengekom word en mag nie meer as 15 ure per week, of altesaam 12 werksure per dag wees nie;
  • Oortyd moet vergoed word teen een en ‘n half keer die normale loon.

NAG WERK

Nag werk is werk tussen 18:00 en 06:00 en kan slegs vereis word indien:

  • Dit skriftelik met die huiswerker ooreengekom is;
  • Die huiswerker daarvoor vergoed word teen ‘n toelaag waarop ooreengekom is;
  • Die huiswerker op die perseel woon, of daar vervoer maklik beskikbaar is.

SONDAG WERK

Werk op ‘n Sondag moet vergoed word teen dubbel die normale loon, behalwe as Sondae deel vorm van die huiswerker se normale ooreengekome werksdae. In daardie geval moet die huiswerker teen een en ‘n half keer die normale loon vergoed word.

LONE

Huiswerkers is geregtig op ten minste die voorgeskrewe minimum loon. As u vind dat u meer betaal as die voorgeskrewe minimum, mag u nie eensydig u huiswerker se lone verlaag nie, aangesien dit ‘n automatiese onbillike besigheidspraktyk sal wees. Hier volg ‘n uitleg van die huidige minimum loon betaalbaar vir die periode 1 Desember 2014 tot 30 November 2015:

AREA MEER AS 27 UUR PER WEEK MINDER AS 27 UUR PER WEEK
AREA A (metropool areas) R 10.59 per uur
AREA B (landelike areas) R 9.30 per uur
AREA A (metropool areas) R 12.40 per uur
AREA B (landelike areas) R 10.98 per uur

N PAAR ONBEKENDE BEPALINGS

  • ‘n Huiswerker wat minder as 4 ure per dag werk moet op die dag betaal word;
  • ‘n Huiswerker is geregtig op ‘n betaalstrokie op elke betaaldag, wat daagliks, weekliks of maandeliks kan wees;
  • Bedrae ten opsigte van werksklere of kos verskaf mag nie van ‘n huiswerker se lone afgetrek word nie;
  • ‘n Aftrekking van nie meer as 10% van die huiswerker se loon word toegelaat wanneer akkommodasie verskaf word nie;
  • ‘n Werkgewer is verplig om ‘n huiswerker met besonderhede van indiensneming te verskaf, met ander woorde ‘n dienskontrak.

TIPES VERLOF

JAARLIKSE VERLOF

Huiswerkers is geregtig op 3 weke betaalde verlof vir elke 12 maande se diens, wat neerkom op 1 dag vir elke 17 dae gewerk. ‘n Werkgewer mag nie die huiswerker uitbetaal in die plek van verlof toeken nie, behalwe by die beëindiging van die dienskontrak.

SIEKVERLOF

  • In ‘n siklus van 36 maande, is ‘n huiswerker geregtig op siekverlof gelykstaande aan die aantal werksdae in ‘n 6 week periode;
  • ‘n Werkgewer mag aandring op ‘n mediese sertifikaat voor die huiswerker vergoed word, indien hy/sy afwesig is vir meer as 2 agtereenvolgende dae of op meer as 2 geleenthede in ‘n 8 week periode;
  • Werkgewers moet eers redelike hulp verleen aan huiswerkers wat op die perseel woon, vir wie dit nie redelik moontlik is om ‘n mediese sertifikaat te bekom nie, alvorens hulle besluit om betaling vir die siek dae geneem, te weerhou.

KRAAMVERLOF

‘n Huiswerker is geregtig op 4 agtereenvolgende maande se kraamverlof. ‘n Ontslag vir enige rede gekoppel aan ‘n huiswerker se swangerskap is automaties onregmatig. Betaling vir hierdie tydperk berus by die werkgewer.

BEëINDIGING VAN DIE DIENSKONTRAK

Die dienskontrak mag deur enige van die partye beëindig word deur kennis as volg aan die ander party te gee:

  • 1 week kennis as die huiswerker minder as 6 maande werksaam was;
  • 4 weke kennis as die huiswerker meer as 6 maande werksaam was;
  • In gevalle waar die werkgewer die huiswerker “retrench”, is hy/sy geregtig op ‘n skeidingspakket gelykstaande aan 1 week se lone vir elke jaar se ononderbroke diens.

SERTIFIKAAT VAN DIENS

Wanneer die dienskontrak beëindig word is die huiswerker geregtig op ‘n sertifikaat van diens wat onder andere uiteensit:

  • Titel;
  • Tydperk van indiensneming;
  • Relevante opleiding ontvang;
  • Rede vir beëindiging van die dienskontrak, slegs op versoek van die huiswerker.

Geskryf deur Michelle Taljaard, Kandidaatprokureur, MHI Prokureurs

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X