Die nuwe NKW reguleer nie net afbetalingsverkoopsooreenkomste en huurooreenkomste ten opsigte van roerende goed soos die Wet op Kredietooreenkomste 75 van 1980 gedoen het nie. Die NKW is ook van toepassing op ‘n groter verskeidenheid kredietooreenkomste en het geen monetêre perk nie. In plaas daarvan om regstappe te neem, laat ‘n skuldeiser soms ‘n skuldenaar ‘n skulderkenning onderteken om terugbetaling te fasiliteer. Hierdie dokument kan voorsiening maak vir paaiemente, rente en fooie. Die vraag is egter of so ‘n ooreenkoms ter bevestiging van ‘n bestaande verpligting, ‘n kredietooreenkoms daarstel vir doeleindes van die NKW.
Die doel van hierdie Wet is om die sosiale en ekonomiese welstand van Suid- Afrikaners te bevorder, om ‘n billike, deursigtige, kompeterende, volhoubare, verantwoordelike, effektiewe en toeganklike kredietindustrie te bevorder, en om verbruikers te beskerm.
“Krediet” word in die Wet gedefinieer as die uitstel van betaling van geld verskuldig deur een persoon aan ‘n ander of die belofte om te betaal; of ‘n belofte om geld voor te skiet aan of ten behoewe van ‘n ander persoon.
“Ooreenkoms” sluit in ‘n reëling of verstandhouding tussen twee of meer partye wat bedoel is om ‘n regsverhouding tussen die partye te skep.
Daar word na die partye by ‘n kredietooreenkoms, gereguleer deur die NKW, verwys as die “verbruiker” en die “kredietverskaffer” en hierdie definisies behoort in oënskou geneem te word. ‘n Skulderkenning verwys normaalweg na ‘n historiese gebeurtenis en vestig nie ‘n kredietwaarborg of enige van die benoemde krediettransaksies soos ‘n pandooreenkoms, verdiskonteringsooreenkoms, insidentele kredietooreenkoms, paaiementooreenkoms, huur, gesekureerde lening- of verbandooreenkoms, of kredietfasiliteit nie. Nietemin, die feit dat die skulderkenning uitgestelde betaling vooronderstel en vereis dat rente, fooie en ander kostes betaalbaar is, veroorsaak dat dit binne die trefwydte van die omvattende term “krediettransaksie”, soos voorsien in artikel 8(4)(f) van die Wet, val.
Artikel 2(1) bepaal dat die Wet geïnterpreteer moet word op ‘n wyse wat uitvoering gee aan die doel soos in Artikel 3 uiteengesit. Die vraag is dus eintlik of die wetgewer bedoel het dat die wysiging van die terugbetalingsvoorwaardes met betrekking tot bestaande skuld, byvoorbeeld waar geld reeds geruime tyd vroeër voorgeskiet is of waar skade gelei is as gevolg van delik of kontrakbreuk, ‘n kredietooreenkoms daarstel vir die doeleindes van die NKW. Gesien die elemente van uitgestelde betaling en die heffing van rente, fooie en ander kostes wat in ‘n standaardskulderkenning voorkom en in die afwesigheid van ‘n spesifieke of geïmpliseerde aanduiding tot die teendeel, lyk dit of die noodwendige gevolgtrekking moet wees dat die ooreenkoms gedefinieer kan word as ‘n kredietooreenkoms soos deur die NKW bedoel. Die relevansie hiervan is dat die kredietverskaffer dalk sal moet registreer by die Nasionale Kredietreguleerder, dat bekostigbaarheidstudies gedoen sal moet word, dat die verbruiker te diep in die skuld kan raak en vir skuldberading aansoek doen, en dat baie ander veeleisende vereistes van toepassing sal wees.
Daar word betoog dat waar die skuldoorsaak of aksie ten opsigte waarvan die skulderkenning gedoen is, op ‘n kontrak of ooreenkoms berus wat ‘n kredietooreenkoms daarstel, die invoeging van ‘n geen-novasieklousule in die skulderkenning nie die ooreenkoms wat vervolgens aangegaan is, buite die trefwydte van die NKW sal laat val nie. Nietemin, waar die skuld aanvanklik ontstaan het as gevolg van ‘n delik, sal die invoeging van ‘n geen-novasieklousule moontlik tot gevolg hê dat die oorspronklike skuldoorsaak, naamlik die delik, behoue bly en dus meebring dat die saak buite die trefwydte van die NKW val.
Iets wat in gedagte gehou moet word, is dat “verbruiker” vir doeleindes van ‘n krediet-ooreenkoms waarop die NKW van toepassing is, beteken:
(a) Die party aan wie goedere of dienste verkoop word kragtens ‘n afslagooreenkoms, insidentele kredietooreenkoms of afbetalingsooreenkoms;
(b) Die party aan wie geld betaal word, of krediet verskaf word, onder ‘n pandooreenkoms;
(c) Die party aan wie krediet verskaf word kragtens ‘n kredietfasiliteit;
(d) Die verbandhouer kragtens ‘n verbandooreenkoms;
(e) Die lener onder ‘n gesekureerde lening;
(f) Die huurder kragtens ‘n huurkontrak;
(g) Die borg kragtens ‘n kredietborgstelling; of
(h) Die party aan wie of in wie se opdrag geld voorgeskiet word of krediet toegestaan word kragtens enige ander kredietooreenkoms.
Die definisie mag die antwoord verskaf aangesien die skulderkenning, as ‘n verskillende skuldoorsaak, dalk kan meebring dat die verbruiker nie volgens die definisie hierbo kwalifiseer nie. So ook is die onderliggende skuldoorsaak tot die skulderkenning en dit spreek vanself dat die ondertekening van ‘n skulderkenning nie iets is wat ligtelik benader moet word nie.
Waar ‘n hof oortuig is dat ‘n skulderkenning onderhewig is aan die NKW, mag van die hof vereis word om ‘n bevinding te maak in terme van artikel 130(4)(b) van die NKW, wat bepaal dat:
In enige verrigtinge gekontempleer in hierdie artikel, indien die hof bevind dat – … die kredietverskaffer nie voldoen het aan die relevante bepalings van hierdie Wet, soos gekontempleer in subartikel (3)(a), of die hof genader het onder omstandighede soos gekontempleer in subartikel (3)(c) dan moet die hof – die saak uitstel; en ‘n bevel maak wat stappe uiteensit wat die kredietverskaffer moet voltooi voordat die saak voortgesit kan word.
In Adams v SA Motor Industry Employers Association 1981 (3) SA 1189 (A) at 1198 – 1199, het die hof bevind dat daar ‘n vermoede teen novasie bestaan en dat, waar novasie nie die bedoeling was nie, dit moontlik was vir twee verpligtinge om gelyktydig te bestaan. Hierdie verpligtinge sal interafhanklik wees en die skuldeiser het nie die vrye keuse om die aanvanklike verpligting af te dwing nie. ‘n Skulderkenning, soms na verwys as ‘n IOU, is bewys dat ‘n skuld verskuldig is, maar verskil van ‘n skuldbewys aangesien dit nie ‘n uitdruklike belofte is om te betaal nie. Waar die skulderkenning egter gekoppel is aan ‘n onderneming om te betaal, sal dit ‘n verpligting skep kragtens daardie onderneming.
Die saak van Rodel Financial Service (Pty) Ltd v Naidoo and Another 2013 (3) Sa 151 (Kzp) en annotasies is voorgestelde leeswerk om die toepaslike beginsels beter te verstaan.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)