Die klassieke geval: Mandie ry 31 km per uur oor die maksimum snelheidsperk in ‘n poging om tred te hou met die res van die motors op die pad. Sy is onder die indruk dat sy bloot by die vloei van die verkeer hou toe sy skielik flitsende ligte in haar truspieël sien.
Mandie aanvaar verkeersboetes as ‘n “lewensfeit“ en beskou oortredings as die buig van reëls eerder as die pleeg van ‘n misdaad.
Maande later arriveer die verkeers-kennisgewing in die pos en Mandie berei haar voor vir `n swaar boete. Sy is egter geskok wanneer die kennisgewing haar verwittig dat sy in die hof moet verskyn en dat sy strafregtelik vervolg word.
Mandie en die meeste ander Suid-Afrikaners is nie bekend met ‘n wysiging aan Artikel 35 van die Wet op Nasionale Padverkeer wat in 2010 aangebring is nie, waarvolgens ‘n voertuigbestuurder strafregtelik vervolg kan word vir die oorskryding met meer as 30km/h van die maksimum snelheidsperk en dat die rybewys van iemand wat skuldig bevind word, opgeskort kan word.
Hierdie bepaling kan ernstige gevolge hê vir baie padgebruikers. Nie net moet Mandie vir `n kriminele oortreding in die hof verskyn nie, maar bestaan die moontlikheid dat haar rybewys opgeskort kan word en dat sy boonop ‘n kriminele rekord kan kry.
Artikel 35 van die Wet op Nasionale Padverkeer
Versuim om in die hof te verskyn ooreenkomstig die kriminele dagvaarding sal lei tot die uitreiking van `n lasbrief vir jou arrestasie.
Die Wet vereis dat ‘n persoon skuldig bevind moet word aan ‘n beweerde oortreding voordat enige regsgevolge daaruit voortvloei. Aangesien `n snelheid bo die snelheidsgrens soos hierbo aangedui beskou word as `n kriminele oortreding, sal die staat bo redelike twyfel moet bewys dat die persoon skuldig is aan sodanige oortreding.
Die opskorting van jou rybewys vir die tydperk soos voorgeskryf in die Wet is nie ‘n opsionele vereiste nie. Dit is ‘n verpligte opskorting vir ‘n tydperk van ses maande in die geval van ‘n eerste oortreding. Waar ‘n persoon skuldig bevind word aan ‘n tweede oortreding kan sy/haar rybewys opgeskort word vir `n tydperk van tot vyf jaar en in die geval van die derde of daaropvolgende oortreding, vir tot soveel as tien jaar.
Hoewel baie geregtelike beamptes (landdroste) Artikel 35 (3) wyd interpreteer wat betref die opskorting al dan nie van ‘n rybewys, beteken dit nie dat indien opskorting van jou rybewys nadelige gevolge vir jou sal inhou, jou rybewys nie opgeskort sal word nie.
Die eenvoudige beginsel geld: Spoed mag dramatiese gevolge vir jou inhou. Die dae van bloot net jou boete by die naaste verkeersdepartement betaal, is verby.
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.