DIFFERENCES BETWEEN LIQUIDATION AND SEQUESTRATION PROCESS
June 30, 2015
THE PROCESS OF ADMINISTRATION OF DECEASED ESTATES
June 30, 2015

DIE BEREDDERING VAN BESTORWE BOEDELS

A1bDie bereddering van bestorwe boedels word grootliks beheer deur die Boedelwet 66 van 1965. Ander wetgewing wat ook van toepassing kan wees in hierdie proses is: die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 , die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 en die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990. Die bereddering van boedels is ‘n gespesialiseerde regsgebied , en dit is algemene praktyk en raadsaam vir persone wat benoem word as eksekuteurs in ‘n testament — en wat nie ervaring het in die administrasie van boedels nie — om ‘n agent aan te stel om namens hulle op te tree. Hierdie artikel sit die basiese stappe uiteen wat geneem moet word tydens die bereddering van ‘n bestorwe boedel.

RAPPORTERING VAN AFSTERWING EN INDIENING VAN DIE TESTAMENT BY DIE MEESTER

Die oorledene se dood word gerapporteer aan die Meester deur die voorgeskrewe kennisgewingsvorm binne veertien dae te voltooi en in te dien. Die oorlewende gade, indien enige, of die naaste familielid rapporteer gewoonlik die oorledene se afsterwe. Die persoon wat ten tyde van die dood (of onmiddellik daarna) beheer het oor die perseel waar die persoon oorlede is kan ook die dood aanmeld. Enige persoon wat ‘n dokument in sy besit het, wat voorgee om die testament van die oorledene te wees, moet so gou moontlik na hy kennis dra van die oorledene se afsterwe, die dokument aan die Meester lewer.

UITREIK VAN EKSEKUTEURSBRIEF

‘n Eksekuteur is ‘n individu wat in terme van die oorledene se testament aangestel word om die boedel te beredder en dit is sy plig om die oorledene se opdragte uit te voer soos vervat in die testament. Die eksekuteur mag slegs die beredderingsproses begin na ontvangs van sy eksekuteursbrief vanaf die Meester.

ADVERTEER AAN KREDITEURE EN INDIENING VAN EISE

Na indiening van die voorlopige inventaris waarin die vaste eiendom, roerende eiendom en eise ten gunste van die boedel uiteengesit word, moet die eksekuteur adverteer aan alle krediteure, sodat enige eise teen die boedel ingedien kan word. Hierdie eise moet dan ondersoek word deur die eksekuteur en indien dit aanvaar word, word dit ingesluit in die Likwidasie- en Distribusierekening (“die L&D “) . Die eksekuteur moet die solvensie van die boedel bepaal (met ander woorde, bepaal of die boedel in staat is om al sy skulde te betaal) en die boedel likwideer, indien daar in die testament daarvoor voorsiening gemaak word, sodat alle skulde betaal kan word .

INDIENING VAN L & D BY DIE MEESTER

Die eksekuteur moet binne ses maande na uitreiking van die eksekuteursbrief die L & D rekening by die Meester indien, wat alle bates en laste van die boedel, asook die distribusie aan die erfgename insluit. Indien daar geldige redes bestaan vir ‘n vertraging in die finalisering van die L & D, soos ‘n  testament wat vaag en onduidelik is, sal die Meester uitstel aan die eksekuteur verleen. Die Meester bestudeer die L&D rekening en rig ‘n vraelys aan die eksekuteur, indien dit nodig geag word. Die eksekuteur is verplig om enige vrae ter bevrediging van die Meester te beantwoord.

L&D MOET TER INSAE LÊ, BETAAL KREDITEURE & ERFGENAME

Wanneer die Meester die L & D rekening goedkeur, moet dit vir ‘n tydperk van 21 dae ter insae lê by die Meester se kantoor, asook die naaste landdroshof. Indien enige skriftelike besware ontvang word, moet dit beantwoord word deur die eksekuteur soos voorgeskryf deur die Wet. Die eksekuteur kan voortgaan om die erfgename te betaal en bates oor te dra, sodra alle besware hanteer is. GEVOLGTREKKING MHI Prokureurs het ‘n toegewyde boedelafdeling , wat spesialiseer in boedelbeplanning, die opstel van testamente en administrasie van bestorwe boedels. In die meeste gevalle is die vertragings in die administrasie van ‘n bestorwe boedel te danke aan ‘n swak opgestelde testament en / of die eksekuteur se gebrek aan ervaring.

Geskryf deur Michelle Taljaard
Kandidaat Prokureur

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X