FINANCES WHEN PURCHASING A PROPERTY
November 25, 2015
STANDARD ACKNOWLEDGEMENTS OF DEBT AND THE NATIONAL CREDIT ACT (NCA)
November 25, 2015

KLOP JOU FINANSIES VIR DIE AANKOOP VAN ‘N EIENDOM?

A3_B

Die kostes verbonde aan die aankoop van ‘n nuwe eiendom behels meer as bloot die voorgeskrewe prokureurskoste vir die registrasie van die transport.   Voornemende Kopers moet doodseker maak hulle word volledig ingelig oor enige verskuilde en voorafbetaalde kostes verbonde aan sodanige aankoop.  Hulle moet ook deeglik kennis neem op welke tydstip enige deposito’s en balans kooppryse betaalbaar is om seker te maak dat daar aan die bepalings van die koopooreenkoms voldoen word.

By die aankoop van ‘n eiendom is die volgende kostes onder normale omstandighede deur die Koper betaalbaar:

  1. Die betaling van ‘n deposito binne die periode soos voorgeskryf in die koopooreenkoms.

Kopers moet kennis neem dat die betaling van ‘n deposito (gewoonlik binne die eerste 7 dae vanaf datum van ondertekening van die koopkontrak) meestal deur die Verkoper vereis word om die Koper se bereidwilligheid om die eiendom in goeder trou aan te koop, aan te dui.  Die doel van die deposito is dus juis ‘n voorafbetaling van die bedrag kort na ondertekening van die kontrak.  As die kontrak stipuleer dat ‘n deposito betaalbaar is by die verkoop van die Kopers se bestaande eiendom, sal dit streng gesproke nie neerkom op die betaling van ‘n deposito nie aangesien laasgenoemde betaling onderhewig is aan ‘n opskortende voorwaarde en nie as bewys van die Koper se goeder trou sou dien nie.

  1. Prokureurskostes, gelykstaande aan ‘n voorgeskrewe tarieffooi betaalbaar aan die oordragsprokureurs wat toesien tot die registrasie van die eiendom in die naam van die Koper.

Gemelde tarieffooi, sowel as die bedrag hereregte betaalbaar aan SARS, word bereken op die waarde van die koopprys van die eiendom. Normaalweg word die hereregte betaalbaar aan SARS ook ingesluit in die rekening van die oordragsprokureurs wat aan die Koper oorhandig word.

Die bedrag hereregte betaalbaar aan SARS by die aankoop van ‘n eiendom word jaarliks hersien en word volgens ‘n glyskaal bereken.  So byvoorbeeld is alle eiendomme wat aangekoop word teen ‘n koopprys van R750 000 of minder, vrygestel van die betaling van hereregte.   Indien die koopprys van die eiendom R750 001 of meer is, sal hereregte aan SARS betaalbaar wees voordat registrasie van die eiendom kan plaasvind. (U eiendomsagent en/of transportprokureur sal in staat wees om u van die presiese hereregte bedrag  sowel as die prokureurskostes betaalbaar op u transaksie, te voorsien).

Dis belangrik om daarop te let dat die hereregte kort na ondertekening van die kontrak reeds betaalbaar is ten einde ‘n hereregtekwitansie vanaf SARS te bekom.  Indiening en registrasie van die transport in die Aktekantoor is nie moontlik alvorens die volle bedrag hereregte nie aan SARS oorbetaal is, en SARS ‘n hereregtekwitansie daarvoor uitgereik het nie.

Baie kopers verkeer dikwels onder ‘n wanindruk dat hereregte eers teen registrasie van die transport betaal kan word, wat nie die geval is nie.   Kopers is ook dikwels onder die indruk dat prokureurskostes (betaalbaar aan die oordragprokureur as ‘n fooi vir die registrasie van die transport) dieselfde kostes is as hereregte (wat aan SARS betaalbaar is). Dus dink Kopers dikwels verkeerdelik dat geen prokureurskostes betaalbaar is aan die oordragprokureurs indien daar nie hereregte aan SARS betaalbaar is nie (weens die feit dat die koopprys van die eiendom R750 000 of minder is).  Dit is egter nie die geval nie, en is die voorgeskrewe tarieffooi steeds betaalbaar aan die oordragprokureur vir die registrasie van die transport.

  1. Die koste verbonde aan die uitreik van ‘n heffingsertifikaat.

Dikwels vorm ‘n eiendom wat aangekoop word deel van ‘n huiseienaarsvereniging, en sal die Koper na registrasie verantwoordelik wees vir die betaling van heffings aan die huiseienaarsvereniging, wat bepaalde funksies tot voordeel van die eienaar verrig.

Indien die Koper ‘n deeltiteleenheid aankoop, is heffings outomaties ook betaalbaar aan die regspersoon van die skema.  By die registrasie van ‘n transport moet ‘n huiseienaarsvereniging of die regspersoon van die deeltitelskema ‘n heffingsertifikaat uitreik wat bevestig dat die bestaande geregistreerde eienaar op datum is met die betaling van alle heffings.  Die koste verbonde aan die uitreik van sodanige heffingsertifikaat kan onder normale omstandighede wissel tussen R500 en R1 500, en is gewoonlik deur die Koper betaalbaar. 

  1. Okkupasiehuur, indien die Koper sou besluit om voor registrasie van die eiendom reeds okkupasie daarvan te neem.

Dit is belangrik dat die Koper kennis neem van die bepalings van die koopooreenkoms, wat sal stipuleer of die Koper na okkupasie slegs okkupasiehuur aan die Verkoper moet betaal vir die gebruik van die eiendom voor registrasie, en of die Koper ook vir ander uitgawes van toepassing op die eiendom (soos byvoorbeeld munisipale belastings, heffings, water en elektrisiteit), verantwoordelik sal wees.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X