Die doel van strafprosesregreëls is om die sekuriteit en veiligheid van die publiek te waarborg deur effektiewe ondersoek van misdade moontlik te maak sodat misdadigers geïdentifiseer en voor die reg gebring kan word.
Eerstens word die misdaad by die polisiestasie aangemeld. Daarna maak die polisie ‘n dossier oop en die misdaad word ondersoek deur die ondersoekbeampte. Die dossier word dan na die Hof gestuur en die aanklaer moet ‘n beslissing maak rakende verdere ondersoek. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit om te vervolg of nie. As die NVG besluit om nie te vervolg nie, is dit omdat die saak nie sterk genoeg is nie of omdat daar te min bewyse is. As die NVG besluit dat die saak vervolg gaan word, word die saak na die Hof gestuur vir aanklag.
Die aanklaer kan besluit om die saak af te wentel as alternatiewe manier van beslegting. Afwenteling is ’n stelsel vir eerstekeer oortreders wat van ‘n geringe misdaad aangekla word. Hulle word ’n kans gegun om gemeenskapsdiens te verrig, restitusie te betaal vir skade as gevolg van die misdaad, om behandeling vir alkohol- of dwelmprobleme te ondergaan, en/of berading vir antisosiale of geestelik onstabiele gedrag te ontvang. In die Hof kan die beskuldigde aansoek doen om op borgtog vrygelaat te word. Die uitwerking van borgtog is dat ‘n beskuldigde wat in bewaring is, uit bewaring vrygelaat word by betaling van die bedrag geld wat vir sy of haar borgtog bepaal is, of by die verstrekking van ‘n waarborg om dit te betaal. Hy/sy moet dan by die plek en op die datum en tyd verskyn wat vir sy/haar verhoor bepaal is of waartoe die verrigtinge wat betrekking het op die misdryf ten opsigte waarvan die beskuldigde op borgtog vrygelaat word, verdaag word. Die Grondwet bepaal die volgende: “Elkeen wat weens ‘n beweerde oortreding gearresteer word, het die reg om behoudens redelike voorwaardes, uit aanhouding vrygelaat te word indien dit in die belang van geregtigheid is.”
Aan die begin van ’n verhoor word die beskuldigde deur die aanklaer ingelig wat die klag teen hulle is. Die beskuldigde pleit dan op die aanklag, wat ‘n pleit van onskuldig of skuldig mag wees. As die beskuldigde onskuldig pleit, moet die saak verhoor word. Die verhoor kan ‘n paar keer uitgestel word om verdere bewyse te kry of om ‘n prokureur vir die beskuldigde aan te stel.
Op die dag van die verhoor sal die aanklaer getuies roep om getuienis te lewer sodat bewys kan word dat die beskuldigde bo enige twyfel skuldig is. Daarna kan die beskuldigde of sy/haar prokureur ook getuies roep of getuienis aanbied. Nadat albei kante aangehoor is, moet die voorsittende beampte ‘n beslissing maak of die beskuldigde skuldig of onskuldig is. Indien die beskuldigde skuldig bevind word, word die beskuldigde gevonnis deur die voorsittende beampte. Die Hof mag ander vonnisopsies oorweeg, afgesien van tronkstraf of boetes. Indien die beskuldigde tot tronkstraf gevonnis word, kan hy/sy onder sekere omstandighede op parool vrygelaat word.
Bronnelys:
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.